Ancient History Encyclopedia has a new name!

We are now World History Encyclopedia to better reflect the breadth of our non-profit organization's mission. Learn More

Hoe om ’n middeleeuse ridder te word

Artikel

Mark Cartwright
deur , Vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 08 June 2018

Oorspronklike teks in Engels: How to Become a Medieval Knight

In die middeleeuse samelewing het ridders ’n hoë status en dikwels rykdom geniet, hulle was gevrees op die slagveld en bekend vir hul ridderlikheid weg van die slagveld af; maar dit het lank geneem en baie opleiding geverg om daardie punt te bereik. Sedert kindsbeen opgelei in ruiterkuns en die hantering van wapens, kon ’n jongman ’n ridder gemaak word deur die plaaslike landheer wat hy gedien het, deur uitsonderlike dapperheid op die slagveld en – ten minste later, toe Europese monarge fondse en bedrewe manne vir hul leërs desperaat benodig het – kon die posisie selfs gekoop word. Hoe dit ook sy, ridders het ’n omslagtige inisiëringseremonie ondergaan, waarna daar van hulle verwag is om die ridderlike tradisies van hul rang te handhaaf en die bestoegeruste en swaarste bewapende opponente – die ridders van die vyandelike leër– in die stryd die hoof te bied.

John II Knighting Squires
John II Knighting Squires
by Unknown Artist (Public Domain)

Alhoewel daar geen vasgestelde stelsel was nie, ouderdomsbestekke gewissel het en sommige jongmanne nooit vir die volgende fase gekwalifiseer het nie, was die algemene stappe om ’n middeleeuse ridder te raak soos volg:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Edelknaap – Vanaf 7-10 tot 13 jaar: Raak vertroud met perde, jag en die gebruik van skynwapens deur ’n plaaslike ridder, baron of koninklike hof te dien.
  • Wapendraer – Vanaf 14 tot 18-21 jaar: Staan ’n volwaardige ridder by, leer om die wapens en wapenrusting van oorlogvoering te gebruik, en verbeter jou algemene opvoeding, veral die kode van ridderlikheid.
  • Ridderslag – 18-21 jaar: Word tydens ’n seremonie deur ’n ander ridder tot ridder geslaan.
  • Diens – Tree op as wag vir ’n baron en sy kasteel, veg in oorloë vir jou soewerein en die Kerk, en neem deel aan middeleeuse toernooie.

Opleiding 1 – Die lewe as edelknaap

Die meeste ridders was waarskynlik die seun van ’n ridder maar daar is rekords van seuns van burgers of vrygeborenes wat vir die nodige opleiding aangewys is, sowel as welaf handelaars en regeringsamptenare soos daardie klasse in die later Middeleeue toegeneem het. ’n Gewone soldaat kon ook weens dapperheid op die slagveld ’n ridder gemaak word. Soos oorlogvoering al meer in omvang toegeneem en baronne meer en meer verkies het om ridders te stuur om namens hulle diens te doen, het die sosiale agtergrond van ’n ridder minder belangrik geraak tydens oorloë waarin soewereine al die gewapende manskappe benodig het wat hulle kon kry. Maar teen die 13de eeu HJ het die idee van adellike afkoms en die behoud van ridderlikheid as die merk van ’n klas met beperkte toegang oor die algemeen regoor Europa posgevat. Daar was uitsonderings, veral in Frankryk en Duitsland sowel as in individuele gevalle, maar normaalweg kon slegs ’n ridder se seun self ’n ridder raak.

’N RIDDER MOES DAARIN BEDREWE WEES OM PERD TE RY TERWYL HY ’N SKILD EN LANS VASHOU, EN DAAROM MOES HY OEFEN OM SY STRYDROS DEUR MIDDEL VAN NET SY KNIEË EN VOETE TE STUUR.

’n Ridder moes daarin bedrewe wees om perd te ry terwyl hy ’n skild en lans vashou, en daarom moes hy oefen om sy strydros deur middel van net sy knieë en voete te stuur. Hy moes in staat wees om vir ’n volgehoue tydperk met ’n swaar en lang swaard te kan veg, en moes fiks genoeg wees om flink te kan beweeg terwyl hy swaar wapenrusting van metaal dra. Bekwaamheid met bykomende wapens soos ’n dolk, strydbyl, knots, boog en kruisboog kon ook nuttig wees. Gevolglik moes ’n jong seun wat deur sy ouers of borg bestem is om eendag ’n ridder te word reeds op ’n jong ouderdom sy opleiding met skynwapens en basiese ruitervaardighede begin – gewoonlik as edelknaap vanaf die ouderdom van 10 jaar (of selfs 7 in sommige gevalle). ’n Jong edelman is waarskynlik na die koninklike hof vir sodanige opleiding gestuur terwyl ’n kêrel uit ’n nederiger aristokratiese familie deur die plaaslike kasteel of die kasteel van ’n familielid in diens geneem is om sy opleiding te kry saam met die ridders of krygsmanne wat daar gestasioneer was. Saam met die ander edelknape het hy daar aan tafel bedien, as stalkneg diens gedoen, geringe take verrig en in alle erns met die onderrig begin wat hy as tiener sou voortsit.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Opleiding 2 – Die lewe as wapendraer

Die volgende stap op die lang pad na ridderskap was om ’n wapendraer (squire), met ander woorde ’n leerlingridder te raak; dit het gewoonlik op die ouderdom van 14 jaar begin. Die Engelse word squire is afgelei van die Franse ecuyer wat “skilddraer” beteken. Benewens die bemeestering van wapentuig en ruiterkuns moes ’n wapendraer na ’n volwaardige ridder – wat moontlik twee of meer wapendraers onder hom kon hê – omsien, sy wapens skoonmaak, sy wapenrusting poleer, na sy perde omsien, hom vir die stryd help aantrek, sy skild vashou totdat dit benodig is, sowel as ander algemene pligte verrig.

Daar was ook niekrygsverwante vaardighede wat verwerf moes word, soos ’n kennis van musiek, dans, en om in Latyn en Frans te kon lees en skryf. Hulle het geleer om poësie voor te dra en het goeie maniere aangeleer, veral in die geselskap van aristokratiese dames, saam met wie hulle gaan jag en speletjies soos skaak gespeel het. In letterkundige vakke sou hulle deur die plaaslike priester onderrig word, en moontlik sou die dame van die kasteel waarin hulle ’n vakleerling was ook by die onderrig betrokke wees. Die jag van wilde diere en valkejag was ander vaardighede op die wapendraer se kurrikulum en het nuttige vleisgeregte voorsien vir die ridder se tafel, waaraan daar van die wapendraer verwag is om te bedien. Wapendraers moes ook die edelknape oplei en na hulle omsien; dit het die handhawing van dissipline ingesluit – ongetwyfeld ’n plig waarin hulle baie behae geskep het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wolfram von Eschenbach & His Squire
Wolfram von Eschenbach & His Squire
by Unknown Artist (Public Domain)

’n Wapendraer se opleiding het oefening met die lans en swaard ingesluit; wapens is soms doelbewus swaarder gemaak as dié wat in oorlog gebruik is om spiere sodoende te versterk en om ’n werklike geveg ’n bietjie moeiliker te laat voorkom as wat dit werklik was. Die staf, boog en kruisboog is ook gebruik, alhoewel dit in die reël nie tydens oorlogvoering deur ridders gebruik is nie. Daar was spesifieke toestelle vir opleiding, soos die steekpaal – ’n roterende arm met ’n skild aan die een kant en ’n gewig aan die ander. ’n Ruiter moes die skild tref en aanhou ry om te verhoed dat hy deur die gewig in die rug getref word soos die paal omswaai. Nog ’n toestel was ’n opgehangde ring wat met die punt van ’n lans verwyder moes word. Om jou perd op ’n harde galop te ry en met jou swaard na ’n houtpaal te kap, was nog ’n algemene opleidingstegniek.

INDIEN DIE RIDDER ERNSTIG GEWOND IS, WAS DIT DIE VERANTWOORDELIK-HEID VAN DIE WAPENDRAER OM HOM VAN DIE SLAGVELD TE VERWYDER.

Tydens werklike oorlogvoering het ’n wapendraer sy ridder gevolg. Wanneer hulle onderweg was, het die wapendraers gewoonlik met die ekstra perde en bagasie vooruit gery. Tydens die stryd self, nadat die wapendraer die ridder se lans en skild aan hom oorhandig het, het hy hom gewoonlik op ’n ander perd gevolg ingeval die ridder se perd buite aksie gestel is. Indien die ridder ernstig gewond is, was dit die verantwoordelikheid van die wapendraer om hom van die slagveld te verwyder.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wanneer die opleiding van ’n wapendraer voltooi is, kon hy deur sy landheer of ’n ander ridder tot ridder geslaan word, gewoonlik tussen die ouderdom van 18 en 21. Dit is nie duidelik wat met wapendraers gebeur het wat nie hul opleiding geslaag het nie, alhoewel ’n loopbaan in die kerk of die reg moontlik ’n algemene alternatief vir sommige kinders van die adelstand kon wees. Een beroemde figuur wat nooit die stap van wapendraer tot ridder geneem het nie, is Geoffrey Chaucer (ca. 1343-1400 HJ), skrywer van The Canterbury Tales. Ander wapendraers het eenvoudig as volwassenes wapendraers gebly en ’n ridder hul hele loopbaan lank gedien. Die gebrek aan finansiële middele was nog ’n rede waarom ridderskap dalk nooit bereik is nie aangesien die koste van perde, wapenrusting en toerusting hoog was. Die wapendraers wat riddermateriaal was en oor die middele beskik het om verder te gaan, het ’n uitvoerige inisiëringseremonie ondergaan om hulle by die broederskap van ridders te verwelkom. Soms is iemand net voor ’n veldslag ’n ridder gemaak, in welke geval die seremonie later moes plaasvind, maar dit was beslis die wag werd.

Seremonie van die ridderslag

Voorbereiding vir ’n ridderslag, wat moontlik enige aantal aanstonse ridders kon insluit, het die dag vantevore begin, met die wapendraer wat homself met ’n bad opgefris, en geskeer of sy baard netjies geknip het. Met sy swaard op die altaar het hy moontlik ’n deurnagwaak in ’n kapel gehou, en het waarskynlik oor sy voorspoed nagedink dat hy sy doelwit bereik het, en besin oor die lewensgevaar wat hy gaan moet trotseer.

King David I Knighting a Squire
King David I Knighting a Squire
by Unknown Artist (Public Domain)

Op die dag van die seremonie is die wapendraer deur twee ridders in ’n wit tuniek en wit gordel geklee om reinheid te simboliseer, swart of bruin kouse wat die aarde verteenwoordig het waarheen hy eendag sou terugkeer, en ’n skarlakenmantel vir die bloed wat hy nou gewillig was om vir sy baron, soewerein en kerk te vergiet. Die werklike seremonie, wat van tyd tot tyd en plek tot plek verskil het, kon buite, in ’n kapel of – vir die gelukkiges – in die koninklike paleis plaasvind wanneer die toedien van die ridderslag gewoonlik as deel van ’n groter viering soos ’n koninklike troue of kroning gehou is. Die wapendraer is met goue spore uitgerus (vandaar die uitdrukking “jou spore verdien”) en sy swaard, wat deur ’n priester geseën is met die voorbehoud dat hy altyd die armes en die swakkes sou beskerm, is aan hom teruggegee. Die lem het twee snykante gehad – die een het geregtigheid verteenwoordig, die ander getrouheid (of meer algemeen, ridderlikheid).

Dan, voor getuies, het die wapendraer voor die ridder of koning gekniel wat die eer betuig het. Die persoon wat die ridderslag toegedien het, het eintlik sy eie reputasie op die spel geplaas aangesien enige roem of oneer wat die nuwe ridder verwerf het ook ’n weerspieëling was van die persoon wat hom tot ridder geslaan het. Die persoon wat die ridderslag toegedien het, kon dan ’n spoor vir die wapendraer aansit, of die swaard en die gordel aan hom hang, en hom ’n kus op die wang gee. Die wapendraer is eintlik tot ridder geslaan deur ’n eenvoudige tik van die hand of swaard op die skouers of nek, of selfs ’n harde hou (colée of akkolade) – bedoel om die laaste een te wees wat hy ooit sonder vergelding moes aanvaar en om hom te herinner aan sy verpligtinge en morele plig om nié die man wat die hou toegedien het, ’n oneer aan te doen nie. ’n Paar woorde kon dalk gespreek word, maar niks deftigs nie; moontlik iets eenvoudig soos, “Wees nou ’n ridder”. Die nuwe ridder kon moontlik ’n eed van getrouheid aflê. Hierdie hulde kon die plaaslike baron gedoen word en het veral onder pagridders geskied – diegene wat grond gehad het wat deel van hulle baron se algehele landgoed uitgemaak het. Nou ’n ridder, is die jongman sy perd gegee waarvoor óf sy vader óf die persoon wat hom tot ridder geslaan het, betaal het, en dan het hy sy skild en banier ontvang, met sy familiewapen moontlik op laasgenoemde uitgebeeld. Vir ’n wapendraer uit ’n ryk familie kon die geleentheid van sy ridderskap ’n groot feestelikheid verseker het – waar hy vir die eerste keer saam met die ander ridders aan tafel kon aansit, pleks daarvan om bloot ’n kelner te wees – en selfs ’n toernooi.

Medieval Soldier Being Knighted
Medieval Soldier Being Knighted
by Mohawk Games (Copyright)

Ridders tydens oorlogvoering

Ná al hierdie voorbereiding en seremoniële verrigtinge was ’n ridder gereed om sy rol te vervul: om oorwinning op die slagveld te behaal. Ridders was om verskeie redes by oorlogvoering betrokke: Hulle was in die besoldigde diens van ’n plaaslike baron as deel van die huishoudelike ridders verbonde aan sy permanente mag; hulle is deur hulle baron gestuur om ’n plig vir hul soewerein te verrig; of hulle het geen bepaalde verbintenis met enigiemand gehad nie, en het hul bestaan as huursoldaat gemaak. Ridders kon ook vir ’n godsdienstige saak geveg het, soos die Kruistogte, of aan ’n ridderorde soos die Tempelridders behoort het.

Ridders is oor die algemeen vir hulle diens betaal, maar indien dit in diens van die koning in ’n oorlog teen ’n ander land of opstandige baronne was, was dit nie altyd die geval nie. Daar was voordele verbonde aan nasionale oorlogvoering aangesien die koning ná die tyd grond en titels kon toeken, en daar was altyd die eer om nie vir geld nie vir jou koning te veg.

In middeleeuse oorlogvoering was die beleëring van gefortifiseerde stede en kastele algemener as veldslae maar daar is steeds op ridders gereken om hul rol te speel. Ridders wat stropersaanvalle uit ’n beleërde kasteel geloods het, moes die hoof gebied word. In ’n veldslag het ridders die voorste linie van ’n leër gevorm. Hulle het in geslote kolonne gery en hulle lans gebruik tot dit gebreek het. Daarna het hulle hul swaard gebruik en indien hul perd beseer is, soos wat dikwels gebeur het, het hulle afgeklim en te voet verder geveg. Tydens ’n beleg kon daar van ’n ridder verwag word om ’n belegtoring te beman of gereed te wees om ’n fortifikasie binne te dring wanneer daar deur die muur gebreek is. Wanneer ridders nie by ’n werklike stryd betrokke was nie, is dit van hulle geverg om hul vaardighede te slyp deur aan toernooie deel te neem waar hulle aan skyn-kavallerieveldslae, te perd aan ridderspele en te voet aan tweegevegte deelgeneem het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
A qualified translator (English↔Afrikaans), I am currently writing a novel in Afrikaans with a medieval setting. I regard the Middle Ages as the watershed epoch after which mankind started losing touch with nature, hence castles gave way to skyscrapers.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is a history writer based in Italy. His special interests include pottery, architecture, world mythology and discovering the ideas that all civilizations share in common. He holds an MA in Political Philosophy and is the Publishing Director at AHE.