Ancient History Encyclopedia has a new name!

We are now World History Encyclopedia to better reflect the breadth of our non-profit organization's mission. Learn More

Gotiese katedrale: argitektuur en hemelse lig

Artikel

Hillary Smith
deur , Vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 08 December 2020

Oorspronklike teks in Engels: Gothic Cathedrals: Architecture & Divine Light

Gotiese katedrale is van die herkenbaarste en manjifiekste argitektoniese prestasies. Met torings wat hoog die lug in troon en saggies gefiltreerde lig wat deur brandskildervensters stroom, is alles omtrent die Gotiese katedraal meevoerend en eteries, met die blik van die aanskouer wat hemelwaarts gelig word. Argitektoniese innovasies soos die steunboog was onontbeerlik vir die skep van die Gotiese styl, maar dit was die nuwe, doelbewuste gebruik van lig wat Gotiese argitektuur werklikwaar van die swaarder en donkerder Romaanse voorgangers daarvan onderskei het.

Basilica of Saint-Denis
Basilica of Saint-Denis
by Ninaras (CC BY)

Die Gotiese styl het in die 12de eeu HJ in Frankryk, in ’n noordelike buitewyk van Parys ontstaan, en is bedink deur ab Suger (1081-1151 HJ), ’n invloedryke figuur in Franse geskiedenis en die leidende gees agter die heel eerste Gotiese katedraal, die basiliek van Saint-Denis. Vir Suger en ander eendersdenkende middeleeuse teoloë was lig in sigself hemels en kon dit gebruik word om die menslike bewustheid van ’n aardse ryk na ’n hemelse een te verhef. Suger, en diegene wat ná hom gekom het, het probeer om hulle katedrale en abdye met lig te deurdrenk en om hoër en eleganter strukture te bou. Dit het genoodsaak dat ’n paar van die ooglopendste aspekte van die Gotiese bouvorm in gebruik geneem is: Spitsboë, ribgewelwe en steunboë kon gebruik word om die mure hoër en dunner te maak deur die gewig van die gebou doeltreffender te versprei.

Verwyder Advertensies

Advertisement

GOTIESE KERKE KON NUWE HOOGTES BEREIK, MET ’N LIGTHEID EN ’N SIER WAARAAN BONKIGE ROMAANSE STRUKTURE DIKWELS ONTBREEK HET.

Nie almal het die Gotiese styl aangehang nie. Giorgio Vasari (1511-1574 HJ), die Italiaanse kunstenaar en skrywer wie se werk as grondslag van die historiese bestudering van moderne kuns beskou word, het die styl waarvoor Suger baanbrekerswerk gedoen het, retrospektief as “Goties” beskryf. Vasari het dit neerhalend bedoel want toe hy in die laat 16de eeu HJ sy mening neergepen het, nadat die Gotiese styl guns verloor het, het hy die styl – vergeleke met die klassieke vorms van die Renaissance-argitektuur van sy eie era – as ’n ontaarding beskou. Deur die styl “Goties” te noem, het hy probeer om dit gelyk te stel aan die “barbaarse” Gote wat Rome meer as ’n duisend jaar vantevore binnegeval het. Desnieteenstaande kon Vasari se teenkanting nie voorkom dat die Gotiese herlewing in die laat 18de eeu HJ wortelskiet nie, en vandag word elke jaar steeds miljoene mense deur die bowêreldse grootsheid van Gotiese katedrale bekoor.

Argitektoniese komponente

Met die Romaanse styl as voorganger en gevolg deur Renaissance-argitektuur, was die Gotiese styl vanaf die 12de tot die 16de eeu HJ deur die hele Europa uiters gewild. Deur middel van steunboë en ribgewelwe wat die uitwaartse drukking van die gebou verlig het en dit moontlik gemaak het dat dunner en hoër mure gebou kon word, het Gotiese argitektuur weggedoen met die dik, swaar mure en geronde boë wat met Romaanse argitektuur geassosieer is. Gotiese kerke kon nuwe hoogtes bereik met ’n ligtheid en sier waaraan bonkige Romaanse strukture dikwels ontbreek het. Onder die sleutel- argitektoniese komponente wat ’n integrale deel van die Gotiese styl gevorm het, was die spitsboog, steunboog, westelike fasade met drie poorte, die ribgewelf en natuurlik die roosvenster.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Spitsboë

Anders as die geronde boë wat algemeen in Romaanse geboue aangetref word, is Gotiese strukture bekend vir hul spitsboë wat beter in staat blyk te wees om gewig te dra. Hierdie spitsboë is nie slegs weens praktiese redes gebruik nie maar was simbolies betekenisvol in dié dat hulle hemelwaarts gewys het. Alhoewel die spitsboog nie eksklusief in Gotiese argitektuur gevind word nie, het dit een van die kenmerkende eienskappe van die styl geraak.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Arched Ceiling Detail at Chartres Cathedral
Arched Ceiling Detail at Chartres Cathedral
by Jan van der Crabben (CC BY-NC-SA)

Steunboë

Waar Romaanse geboue stutmure aan die binnekant gebruik het as ’n manier om gewig te ondersteun, is die stutmure van Gotiese katedrale aan die buitekant. Hierdie steunboë het dit moontlik gemaak dat kerke baie hoër gebou kon word aangesien die gewig van die dak weg van die mure af na ’n eksterne lasdraende skelet versprei is. Met dié dat hulle teen die uitwaartse drukking van die mure terug stu, het steunboë die hoë torings en hoë middelskip van die Gotiese katedraal moontlik gemaak.

Chartres Cathedral
Chartres Cathedral
by Olvr (CC BY-SA)

Westelike fasade met drie poorte

Nog ’n unieke kenmerk van die Gotiese katedraal is die westelike fasade. Dit word dikwels as die voorkant van die kerk gesien wat tipies uit twee torings, ’n sentrale roosvenster en drie ingange bestaan. Die westelike fasade van die Notre Dame in Parys is byvoorbeeld waar die mense saamdrom om die uitvoerige klipsneewerk te aanskou wat die gebou versier. Gedetailleerde beeldhouwerk wat in die gewelveld of timpaan bo elke deur uitgekerf is, vertel ’n storie wat ’n merendeels ongeletterde middeleeuse bevolking kon verstaan. Die middelpoort by Notre Dame staan bekend as die “Poort van die laaste oordeel”, die linkerpoort as die “Poort van die Maagd” en die regterpoort as die “Poort van St. Anne”.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Notre-Dame Cathedral (Paris), West Façade
Notre-Dame Cathedral (Paris), West Façade
by Hillary Smith (CC BY-NC-SA)

Ribgewelwe

Ribgewelwe was ’n noodsaaklike tegniek wat die algehele toename in grootte en verwikkeldheid van ontwerpe in Gotiese strukture moontlik gemaak het. Romaanse strukture het oor die algemeen van tonnel- en kruisgewelwe gebruik gemaak. Maar Gotiese strukture het ’n diagonale raamwerk bekend as ’n “ribgewelf” gebruik wat bouers in staat gestel het om hoër en dunner strukture op te rig. In ’n Gotiese katedraal is dit maklik om die ribgewelwe oor die middelskip se plafon te sien kriskras.

Rib Vaults, Rouen Cathedral
Rib Vaults, Rouen Cathedral
by Jorge Láscar (CC BY)

Roosvensters

Die eteriese pers lig wat deur enorme, ronde vensters bekend as “roosvensters” die gebou na binne stroom, val besoekers aan Gotiese katedrale gewoonlik onmiddellik op. Te danke aan hoër geboue kon hoër vensters gebou word; voorts het die gebruik van kliptraseerwerk waarmee brandskildervensters versterk is ambagmanne ook in staat gestel om gróter vensters te bou. Daarbenewens het die gebruik van silwer kleurstof in die vervaardiging van brandskilderglas tydens die 13de eeu HJ die skep van helderder glas moontlik gemaak, wat die interieur van Gotiese strukture verder opgehelder het. Alhoewel voorbeelde van ronde vensters gevind kan word in sommige Romaanse kerke wat die Gotiese tydperk voorafgegaan het, het die roosvenster ’n eiesoortige kenmerk van Gotiese katedrale geraak, en met die ontwikkeling van kliptraseringstegnieke wat dit haalbaar gemaak het dat meer glaspanele veilig in posisie geplaas kon word, het die roosvensters nuwe afmetings aangeneem. Chartres Katedraal in die suidweste van Parys wat in die vroeë 13de eeu HJ voltooi is, het waarskynlik die indrukwekkendste steeds bestaande versameling gebrandskilderde glas wat tot die middeleeuse tydperk terugdateer.

West Rose Window at Chartres Cathedral
West Rose Window at Chartres Cathedral
by Jan van der Crabben (CC BY-NC-SA)

Geboorte van die Gotiese styl: ab Suger en Saint-Denis

Ab Suger (1081-1151 HJ) was ’n invloedryke figuur in Frankryk tydens ’n belangrike periode in die Franse geskiedenis toe die monargie se mag toegeneem het. Raadgewer vir sowel Louis VI (1081-1137 HJ) as Louis VII (1120-1180 HJ), het Suger die amp van ryksbestuurder beklee toe Louis VII op die Tweede Kruistog (1147-1150 HJ) vertrek het, wat Suger basies in beheer van Frankryk gelaat het. Hy is in 1122 HJ as die ab van Saint-Denis aangewys en het vir byna 30 jaar, tot sy dood, in hierdie amp gestaan. Tussen 1137 en 1148 HJ het hy ’n ambisieuse projek aangepak om die kerk in ’n fisiese manifestasie van die hemelryk te omskep, en sodoende geskep wat later die argetipe van die Gotiese katedraal sou raak. In sy geskrifte bekend as The Book of Suger, Abbot of Saint-Denis: On What Was Done Under His Administration het Suger sy opknapping en redeneerwyse omvattend uiteengesit.

SUGER HET GEGLO LIGGEWENDE EN PRAGTIGE STOFLIKE VOORWERPE KON HELP OM DIE AANSKOUER GEESTELIK NA DIE HEMELRYK WEG TE VOER.

Suger se opknapping het met die westelike fasade van die kerk begin. Die byvoeg van drie poorte by ’n fasade met ’n westelike uitsig, sowel as die binnekort alomteenwoordige roosvenster, is wesenlik Suger se innovasies. Grootliks beïnvloed deur Pseudo-Dionisius die Areopagiet se metafisiese begrip van lig, het Suger geglo dat liggewende en pragtige stoflike voorwerpe die aanskouer geestelik na die hemelryk kon help wegvoer. Vir Suger het die kerk ’n tipe drempelruimte tussen die aardse en hemelryk beklee. Derhalwe was die doelbewuste gebruik van lig ’n dryfkrag agter sy innovasies, die hoofrede om die bepalende argitektoniese eienskappe van die Gotiese styl vir die eerste keer in ’n enkele gebou byeen te bring. Suger se danigheid met lig word vergestalt in die woorde wat hy op een van die katedraal se vergulde bronsdeure laat ingrif het:

“Julle almal wat aan hierdie deure eer wil betoon,

moet julle nie oor die goud en die uitgawe verwonder nie maar oor die vakmanskap van die werk.

Die edele werk is helder maar, synde dit in helderheid edel is, moet die werk

die geeste ophelder, hulle in staat stel om deur die ligte te reis

na die ware lig, waar Christus die ware deur is.

Die goue deur bepaal hoe dit in hierdie dinge op hande is.

Die saai gees verrys deur stoflike dinge na die waarheid,

en is vanuit sig vorige onderdompeling verrese wanneer die lig gesien word.”

(Suger & Panofsky, 23)

Suger het geglo dat sy helderder kerk die “geeste” van sy gemeente sou “ophelder” en dat dit hulle “na die ware lig, waar Christus die ware deur is”, sal lei. Hy noem ook spesifiek dat stoflike voorwerpe as leikanale vir die hemelse waarheid kan dien: “Die saai gees verrys deur stoflike dinge na die waarheid”. Die middeleeuse teologiese begrip van stoflikheid wat Suger aangehang het, het aangevoer dat alle stoflike voorwerpe oor die kapasiteit beskik het om verbindingsweë met die hemelryk te wees. Suger het die gebruik van goud en kosbare juwele in sy uitvoerige opknappings en versierings geregverdig aangesien hy hulle as letterlike toevoerkanale van die hemelryk beskou het. Die heersende oortuiging in die Middeleeue was dat stoflike voorwerpe – hoe spoggeriger en mooier, hoe beter – instrumente kon wees om met God in verbinding te tree, met lig die sleutelbestanddeel vir die aktivering van hierdie voorwerpe. Die gebruik van lig in Gotiese katedrale het dus ’n argitektoniese tegniek in eie reg geraak; dit was net so belangrik vir die konstruksie daarvan as steunboë en ribgewelwe. Lig is letterlik as afkomstig uit die hemelryk beskou, en Suger het groot sorg geneem om regdeur Saint-Denis enige belemmering van die berekende vloei van die hemelse lig uit te skakel.

Basilica of Saint-Denis, Main Altar
Basilica of Saint-Denis, Main Altar
by ctj71081 (CC BY-NC)

Lig as rigtinggewende krag

In die Middeleeue is epistemologies belangrike onderskeid getref tussen die konsepte “uitstraallig (lux)”, “lumen” en “glans” – woorde wat gebruik is om ligte met afwisselende vlakke van metafisiese kenmerke te beskryf. Terwyl “uitstraallig” na die natuurlik lig verwys wat deur die son uitgestraal word, is “lumen” die lig wat met die wêreld in wisselwerking tree, en “glans” is lig wat weerkaats word. Vir Suger en diegene wat in sy voetspore gevolg het, was die doelwit nie net om die hele kerk eenvoudig met soveel moontlik lig te deurdrenk nie, maar om uitstraallig, lumen en glans op spesifieke maniere aan te wend. Die byvoeg van die roosvenster by Saint-Denis is ’n uitstekende voorbeeld van die gebruik van lig om aanskouers se sig na ’n verhewe vlak – letterlik ver bo hulle – te lei, sowel as die simboliese gebruik daarvan as ’n model van die hemelryk. Die westelike roosvenster by Saint-Denis beklee wat MIT-professor in Argitektuur, dr. Mark Jarzombek ’n “vreemde ruimte in ons argitektoniese verbeelding” noem – nie bloot ’n skepper van lig nie, maar ’n “swewende aanduier van die hemel” (lesing 21 in “A Global History of Architecture” via edX).

Nog ’n voorbeeld van rigtinggewende lig in ’n Gotiese katedraal is by Chartres Katedraal, waar die syskepe ’n helder buitelyn van die middelskip vorm sodat kykers se sig al met die breedste middelskip van enige katedraal in Frankryk langs ingetrek word. Vanaf die 12de tot die 13de eeu HJ het die helderheid aan die binnekant van Gotiese katedrale van die vroeë tot die laat Gotiese tydperk (soms na verwys as die “vroeë Renaissance”) toegeneem. Hierdie verandering is deels as gevolg van die ontwikkeling van wit brandskilderglas. Nog ’n interessante ontwikkeling is die geleidelike toename in grootte van die roosvenster in verskillende katedrale wat by Saint-Denis begin het. By Chartres is ’n nog groter roosvenster terwyl die roosvenster by Westminster-abdy so groot is dat dit aan die balustrades raak wat dit omraam.

Detail, North Rose Window, Chartres
Detail, North Rose Window, Chartres
by Allie Caulfield (CC BY)

Onderliggend aan hierdie afwisselings is veranderende filosofiese oortuiginge wat direk in kerkargitektuur gemanifesteer het. Soos die Middeleeue voor die opmars van die Renaissance geswig het, het die metafisiese begrip van lig voor ’n meer wetenskaplike insig gewyk. Hierdie verandering in oortuiging oor die aard van lig was ’n skuif vanaf die letterlike begrip van lig as die beliggaming van hemelsheid, na ’n simboliese begrip waar lig ’n verteenwoordiging van die hemelryk is. Die manier waarop lig met die stoflike wêreld in wisselwerking moes tree, en die werklike manier waarop die stoflikheid van lig self uitgebeeld en benut is, het verander. Soos wat ’n meer wetenskaplike en minder metafisiese begrip van lig ontwikkel het, het lig miskien ’n metafoor vir die hemelryk geraak, eerder as die werklike ding. Nietemin is dit onmoontlik om te verstaan wat die Gotiese styl beteken het vir middeleeuse mense vir wie hierdie strukture gebou is, sonder om eers hulle oortuiginge rakende lig en stoflikheid te verstaan wat as inspirasie vir hierdie fassinerende en pragtige argitektoniese ontwikkelings gedien het, en dit verwesenlik het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
A qualified translator (English↔Afrikaans), I am currently writing a novel in Afrikaans with a medieval setting. I regard the Middle Ages as the watershed epoch after which mankind started losing touch with nature, hence castles gave way to skyscrapers.

Oor die Skrywer

Hillary Smith
Hillary Smith holds master's degrees in Art History (University College Dublin) and Public Policy (UCLA). Interested in the nexus of art and policy, she is a believer in the soft power potential of cultural heritage to transform and connect our world.