Die Slag van Thermopulai

Definisie

Mark Cartwright
deur , Vertaal deur Willem du Plessis
gepubliseer op 16 April 2013

Oorspronklike teks in Engels: Battle of Thermopylae

Battle of Thermopylae 480 BCE (by Dept. of History, US Military Academy, CC BY-SA)

Thermopulai is 'n bergpas naby die see in die noorde van Griekeland, wat in die antieke tyd die ligging van verskeie gevegte was, waarvan die bekendste die geveg tussen die Perse en Grieke in Augustus 480 VHJ. was. Ten spyte van die feit dat hulle ‘n baie kleiner mag was, het die Grieke die smal pas drie dae lank verdedig, terwyl die Spartaanse koning Leonidas 'n laaste verdediging met 'n klein groep magtige Spartane en ander Griekse hopliete behartig het. Uiteindelik het die Perse beheer oor die pas geneem, maar die heldhaftige nederlaag van Leonidas sou legendariese status aanneem vir latere geslagte Grieke. Binne 'n jaar na die bekende slag sou die Persiese inval afgeweer word tydens die slag van beide Salamis en Plataea.

Konteks: Die Persiese Oorloë

Teen die eerste jare van die 5de eeu VHJ het die Persiese Achaemenidiese Ryk, onder die heerskappy van Darius I (r. 522-486 VHJ), reeds uitgebrei na die vasteland van Europa en het Thrakië en Macedonië onderwerp. Volgende in koning Darius se visier was Athene en die res van Griekeland. Die rede waarom Griekeland deur Persië begeer is, is egter onduidelik. Rykdom en hulpbronne lyk 'n onwaarskynlike motief. Ander, meer aanneemlike moontlikhede, sluit in die behoefte om die aansien van die koning tuis te verhoog of om eens en vir altyd potensiële rebelstate aan die westelike grens van die ryk te onderdruk.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ongeag die presiese motiewe, in 491 VHJ stuur Darius gesante om die Grieke te onderwerp aan die Persiese bewind. Die Grieke het hulle geen-nonsens-antwoord duidelik gemaak deur die gesante tereg te stel, en Athene en Sparta het belowe om 'n alliansie te vorm vir die verdediging van Griekeland. Darius se reaksie op hierdie diplomatieke verontwaardiging was om 'n vloot mag van 600 skepe en 25,000 man te loods om die Sikladiese eilande en Eubea aan te val, met die doel om die Perse een tree nader aan die res van Griekeland te bring. In 490 VHJ het die Griekse magte onder leiding van Athene die Perse in die geveg by Marathon ontmoet en die indringers verslaan. Die stryd sou 'n mitiese status onder die Grieke kry, maar in werklikheid was dit bloot die opening van 'n lang oorlog met verskeie ander en meer belangrike gevegte. Persië, die grootste ryk ter wêreld, het baie meer soldate en hulpbronne tot hul beskikking gehad en sou dit ten volle benut vir 'n volskaalse aanval teen die Grieke.

Greco-Persian Wars
Greco-Persian Wars
by Kelly Macquire (CC BY-NC-SA)

In 486 VHJ het Xerxes I (r. 486-465 VHJ) koning geword met die dood van Darius en is gevolg deur voorbereidings vir 'n groot inval. Daar is groot depots van toerusting en voorrade gelê, 'n kanaal is gegrawe in Chalkidike, en ‘n bootbrug is oor die Hellespont gebou om die beweging van troepe te vergemaklik. Griekeland was op die punt om met sy grootste bedreiging ooit te staan ​​te kom, en selfs die orakel in Delphi het die Atheniërs onheilspellend aangeraai om 'na die einde van die wêreld te vlieg'.

Die Pas van Thermopulai

Toe die nuus van die invallende mag Griekeland bereik, was die aanvanklike Griekse reaksie om 'n mag van 10,000 hopliete te stuur om by die vallei van Tempē naby berg Olympos bymekaar te kom, maar hulle het onttrek toe die groot omvang van die invallende leër onthul is. Na baie besprekings en kompromieë tussen die Griekse stadstate, agterdogtig oor mekaar se motiewe, is 'n gesamentlike leër van tussen 6,000 en 7,000 man gestuur om die pas by Thermopulai te verdedig waardeur die Perse die vasteland van Griekeland moes binnekom. Die Griekse troepe het 300 Spartane en hul helote ingesluit met 2,120 Arkadiërs, 1,000 Lokriërs, 1,000 Phokiërs, 700 Thespiërs, 400 Korintiërs, 400 Thebeiërs, 200 man uit Fleius en 80 Miceniërs.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die pas van Thermopulai was 'n uitstekende keuse vir verdediging, met steil berge wat in die see afloop en slegs 'n smal moerasagtige gebied langs die kus.

Die relatiewe grootte van die verdedigende mag word beskou as een rede hoekom sommige Griekse stadstate ongewillig was om troepe sover in die noorde te plaas. ‘n Ander rede was as gevolg van godsdienstige redes, want dit was die periode van die heilige spele in Olympia en die belangrikste Spartaanse godsdiensfees, die Karneia, en geen gevegte is tydens hierdie geleenthede toegelaat nie. Om hierdie rede het die Spartane te laat by die vroeër Slag van Marathon aangekom. Daarom het die Spartane, wat alom erken word as die beste vegters in Griekeland en die enigste polis met 'n professionele leër, slegs 'n klein opmars van 300 hopliete (van ongeveer 8,000 beskikbaar) tot die Griekse verdedigingsmag bygedra. Die spesifieke 300 het almal manlike erfgename gehad.

Behalwe vir die landmagte, stuur die Griekse pole 'n vloot oorlogskepe wat hul posisie beklee het voor die kus van Artemision (of Artemisium) aan die noordkus van Eubea, 40 seemyl vanaf Thermopulai. Die Grieke sou meer as 300 trireme (Drieriemsgalei) bymekaarmaak, met ‘n moontlike hoofdoel om te voorkom dat die Persiese vloot langs die binnelandse kus van Lokris en Boeotia invaar.

Greek Hoplite
Greek Hoplite
by Johnny Shumate (Public Domain)

Die pas van Thermopulai, geleë 150 km noord van Athene, was 'n uitstekende keuse vir verdediging, met steil berge wat in die see afloop en slegs 'n smal moerasagtige gebied langs die kus. Die pas is ook versterk deur die plaaslike Phokoane wat 'n verdedigingsmuur gebou het wat vanaf die sogenaamde Middelpoort tot by die see geloop het. Die muur was erg verval, maar die Spartane het die beste herstelwerk gedoen onder die omstandighede. Dit was toe hier, in 'n gaping van 15 meter met 'n krans aan hul linkerflank en die see aan hul regterkant, dat die Grieke besluit het om standpunt in te neem teen die indringerleër. Die Persiese koning, wat die inval persoonlik gelei het, met êrens in die omgewing van 80,000 troepe tot sy beskikking, het eers vier dae gewag in die verwagting dat die Grieke in paniek sou vlug. Toe die Grieke hul standpunt beklee, het Xerxes weer gesante gestuur om die verdedigers 'n laaste kans te gee om oor te gee sonder bloedvergieting as die Grieke net hul wapens sou neerlê. Leonidas se brawe reaksie op die hierdie versoek was 'molōn labe' of 'kom haal hulle' en so het die geveg begin.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hopliete vs. Boogskutters

Die twee opponerende leërs het die twee benaderings tot klassieke oorlogvoering verteenwoordig - Persiese oorlogvoering het langafstand aanvalle  met behulp van boogskutters bevoordeel wat gevolg was deur 'n ruiter klag, terwyl die Grieke swaar gepantserde hopliete bevoordeel het wat gerangskik was in 'n digte volgepakte formasie genaamd die falanks, elkeen bewapen met 'n swaar ronde bronsskild en wat op 'n nabye manier geveg het met spiese en swaarde. Die Persiese voetsoldate het 'n liggewig (dikwels sekelvormige) rietskild gedra en was gewapen met 'n lang dolk of 'n strydbyl, 'n kort spies en 'n saamgestelde boog. Die Persiese magte het ook die Onsterflikes ingesluit, 'n elite-mag van 10,000 soldate wat waarskynlik beter wapenrustings tot hul beskikking gehad het en met spiese gewapen was. Die Persiese perderuiters was as voetsoldate bewapen, met 'n boog en nog twee spiese om te gooi. Perderuiters, wat gewoonlik op die flanke van die hoofgeveg opereer, is gebruik om opponerende infanterie in die wiele te ruk nadat hulle aan herhaalde salvo's van die boogskutters onderwerp is. Alhoewel die Perse die oorhand gehad het in vorige gevegte tydens die Ioniese opstand, het die terrein by Thermopulai beter by die Griekse oorlogvoering gepas.

Persian Archers
Persian Archers
by mshamma (CC BY)

Die Persiese taktiek om vinnig 'n groot aantal pyle op die vyand af te vuur, wat 'n skrikwekkende spektakel moes gewees het, was egter grotendeels oneffektief teen die brons-gepantserde hopliete. Inderdaad, die Spartaanse houding teenoor die Perse word deur Dieneces beklemtoon. Toe daar gesê is dat die Persiese pyle so baie sou wees dat dit die son sou donker maak, het Dieneces geantwoord dat die Spartane in daardie geval die plesier sou hê om in die skaduwee te veg. Die lang spiese, swaarder swaarde, beter wapenrustings en rigiede dissipline van die falankse het beteken dat die Griekse hopliete al die voordele sou hê, en in die noue perke van die terrein sou die Perse sukkel om hulle groot getalle effektief te kon gebruik.

Die Slag

Op die eerste dag het Xerxes sy Median -en Kissian-troepe gestuur, en nadat hulle nie die pas kon deurmaak nie, het die elite Onsterflikes die stryd betree, maar in die brutale geveg in die nabye omgewing het die Grieke die oorhand behou. Die Griekse taktiek om 'n ongeorganiseerde vlug voor te gee en dan skielik die vyand in die falanksvorming aan te val, het ook goed gewerk. Die taktiek het ook die bedreiging van Persiese pyle verminder, en miskien het die hopliete die Perse verras met hul gedissiplineerde beweeglikheid wat ‘n voordeel was van 'n professionele opgeleide leër.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die tweede dag volg die patroon van die eerste, en die Griekse magte hou steeds die pas. 'n Verraaier was egter op die punt om die balans in die guns van die indringers te laat kantel. Efialtes, die seun van Eurydemos, ’n plaaslike herder van Trachis, wat beloning van Xerxes gesoek het, het die Perse in kennis gestel van ’n alternatiewe roete — die Anopaia-pad — wat hulle in staat sou stel om die meerderheid van die Griekse magte te vermy en hul suidelike flank aan te val. Leonidas het die kontingent van Phokiërs gestasioneer om hierdie belangrike punt te bewaak, maar hulle het gedink dat hulle die primêre teiken van hierdie nuwe ontwikkeling was, en het onttrek na 'n hoër verdedigingsposisie toe die Onsterflikes aanval. Dit het die Perse gepas, want hulle kon nou onbelemmerd langs die bergpaadjie voortgaan en agter die Griekse hoofmag aankom. Aangesien hul posisie nou skynbaar hopeloos was, en voordat hul terugtog heeltemal afgesny was, was die grootste deel van die Griekse magte beveel deur Leonidas om te onttrek.

Leonidas
Leonidas
by Marie-Lan Nguyen (CC BY-SA)

Laaste Stand

Die Spartaanse koning het op die derde dag van die geveg sy klein mag - die oorlewendes van die oorspronklike 300 Spartane, 700 Thespiërs en 400 Thebeiërs - bymekaargeroep en 'n agterhoede gemaak om die pas na die laaste man te verdedig in die hoop om die Persiese vordering stadiger te maak. ‘n Verdere rede was dalk om te wag op ‘n moontlike aflossing van 'n groter Griekse mag. Vroegoggend het die hopliete weer die vyand ontmoet, maar hierdie keer kon Xerxes van voor en agter aanval, maar in dié geval was die Onsterflikes agter die Grieke laat met hul aankoms. Leonidas het sy troepe na die breedste deel van die pas gebring om al sy manskappe tegelykertyd te benut, en in die daaropvolgende botsing is die Spartaanse koning gedood. Sy makkers het daarna hard geveg om die liggaam van die gevalle koning te herwin. Intussen het die Onsterflikes nou die stryd betree agter die Grieke, wat na 'n hoë heuwel agter die Phokoanse muur teruggetrek het. Dit is moontlik dat die Thebeiërs op hierdie stadium oorgegee het (alhoewel dit onder geleerdes betwis word). Die oorblywende hopliete, wat vasgekeer was, is verder aan 'n golf van Persiese pyle onderwerp totdat niemand bly staan ​​het nie. Na die geveg het Xerxes beveel dat Leonidas se kop op 'n paal geplaas word en op die slagveld vertoon moes word. Soos Herodotus beweer in sy weergawe van die geveg in boek VII van Die Geskiedenisse, is die Orakel in Delphi reg bewys toe sy verkondig dat Sparta of een van haar konings moes val.

Intussen het die Perse in Artemision meer met die weer gesukkel as met die Grieke, aangesien hulle 400 trireme verloor het in 'n storm aan die kus van Magnesië en nog meer in 'n tweede storm buite Eubea. Toe die Griekse en Persiese vlote uiteindelik ontmoet, het die Grieke laat in die dae geveg om die tyd van elke skermutseling te beperk, wat die numeriese voordeel van die Perse verminder het. Die uitslag van die geveg was egter besluiteloos en op die nuus van Leonidas se nederlaag het die vloot na Salamis onttrek.

Die Gevolg

Die slag van Thermopulai, en veral die Spartaanse se rol daarin, het spoedig 'n mitiese status onder die Grieke verwerf. Vrye mans het hulself, ten opsigte van hul eie wette, opgeoffer om hul lewenswyse teen buitelandse aggressie te verdedig. Soos Simonedes se grafskrif op die plek van die gevalle gesê het: ‘Gaan vertel die Spartane, u wat lees: Ons het hul bevele geneem en hier lê dood’.

Die feit bly staan dat die pad nou oopgestaan het vir Xerxes na die Griekse vasteland. Die Grieke was egter nog lank nie klaar nie, en ten spyte van die feit dat baie Griekse stadstate oorgegee het aan die Perse en dat Athene self beset was, het 'n Griekse leër onder leiding van Leonidas se broer Kleombrotos 'n verdedigingsmuur naby Korinte begin bou. Die winter het die landveldtog egter gestaak, en by Salamis het die Griekse vloot die Perse in vlak waters aangevat en 'n besonderse oorwinning behaal. Xerxes het na sy paleis in Sousa teruggekeer en die begaafde generaal Mardonius in beheer van die inval gelaat. Na 'n reeks politieke onderhandelinge het dit duidelik geword dat die Perse nie deur diplomasie 'n oorwinning sou behaal nie, en die twee leërs het in Augustus 479 VHJ by Plataea ontmoet. Die Grieke, wat die grootste hoplietleër ooit bymekaar gebring het, het die stryd gewen en uiteindelik Xerxes se ambisies in Griekeland beëindig.

As 'n interessante voetnota: die belangrike strategiese posisie van Thermopulai het beteken dat dit weer die ligging van ‘n geveg was in 279 VHJ toe die Grieke die invallende Galliërs in die gesig staar, asook in 191 v.C. toe 'n Romeinse leër Antiochus III verslaan het. Selfs so onlangs soos 1941 HJ het Geallieerde Nieu-Seelandse magte hiér met dié van Duitsland gebots.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Willem du Plessis
Willem is interested in Ancient Cultures specifically Classical Studies and the Ancient Near East as well as war, peace, and politics in these societies. He is pursuing post-graduate studies in the near future.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is a history writer based in Italy. His special interests include pottery, architecture, world mythology and discovering the ideas that all civilizations share in common. He holds an MA in Political Philosophy and is the Publishing Director at AHE.