Burgtoring van ’n kasteel

Definisie

Mark Cartwright
deur , Vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 14 June 2018

Oorspronklike teks in Engels: Castle Keep

Tour de César, Beaugency (by Mark Cartwright, CC BY-NC-SA)
Tour de César, Beaugency
by Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die burgtoring, geleë in ’n binneplaas en omring deur ’n weermuur, was die hart van ’n middeleeuse kasteel. Die burgsaal was ’n lae gebou terwyl die burgtoring of donjon drie of meer verdiepings kon hê, en met torings en borswering bekroon kon wees. Met sy ekstra dik mure en beskermde ingang, was die burgtoring oor die algemeen die veiligste plek in ’n kasteel tydens die belegoorlogvoering van die 11de en 12de eeu HJ. Binne die grootste gebou wat ’n persoon in die Middeleeue waarskynlik ooit in sy of haar lewe sou sien, was die heersersaal, die kasteel se kapel en woonkwartiere. Duur en stadig om te bou, is burgtorings vanaf die middel 13de eeu HJ algaande vervang deur groter ronde torings in die ringmuur wat ontwerp is om die vyand te verhoed om die kasteel se binneplaas enigsins te betree. As blywende getuienis van hul integrale sterkte, bestaan baie burgtorings vandag steeds oor die hele Europa, terwyl die res van die kasteel se geboue dikwels lank terug al verdwyn het.

Die Engelse term keep kan op drie verskillende kasteelstrukture toegepas word:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Manteltoring (shell keep– waar die houtpalissade bo-op ’n burgheuwel-en-binneplaaskasteel met klip ombou is.
  • Burgsaal (hall keep) – ’n residensiële gebou van een of twee verdiepings in die binneplaas van ’n kasteel. Die term kan ook van toepassing wees op ’n burgtoring wat ’n enkele skeidingsmuur op elke verdieping het wat twee vertrekke van ongelyke grootte skep.
  • Burgtoring (tower keep) – ook bekend as die “groot toring” of donjon, ’n groot kliptoring van verskeie verdiepings gebou binne die ringmure van ’n kasteel wat as primêre woonplek en laaste plek van toevlug in geval van ’n aanval diens doen.

Manteltoring

Toe die eerste eenvoudiger kastele – die burgheuwel-en-binneplaaskastele – in die meer bekende en komplekse kastele ontwikkel het wat geheel en al uit klip gebou is, is ’n vroeë vorm van die burgtoring – basies ’n burgtoring sonder ’n weermuur (omringende muur) – gesien. In die 11de eeu HJ was die Normandiërs uitstekende bouers van burgheuwel-en-binneplaaskastele oor die hele Frankryk en Engeland. ’n Houttoring is op die burgheuwel, ’n natuurlike of kunsmatige heuwel, gebou, en aan die voet daarvan is ’n binneplaas geskep deur ’n omringende muur te bou wat aan die burgheuwel verbind is. Die hele affêre is dan deur ’n sloot omsluit. Toe die houtpalissade bo-op die burgheuwel deur klip vervang is, kry dit die nuwe naam “manteltoring”.

Cardiff Castle Shell Keep
Cardiff Castle Shell Keep
by Robin Byles (CC BY-NC-SA)

Die nuwe klipmuur van ’n manteltoring – óf rond óf veelhoekig – kon 3-3,5 m (10-12 vt.) dik wees en 4,5-9 m (15-30 vt.) hoog. Binne was geboue soos ’n saal, barakke, kapel, akkommodasie en pakhuise. ’n Uitstekende voorbeeld van ’n steeds bestaande manteltoring is by Cardiff Kasteel wat uit ca. 1150 HJ dateer. Nog ’n goeie voorbeeld is Restormel Kasteel (ca. 12de eeue HJ) in Cornwall, Engeland. ’n Vierkantige uitboutoring en klipgeboue aan die binnekant is in die 13de eeu HJ bygevoeg en alhoewel dit vandag bouvallig is, kan die rangskikking daarvan in die sentrale ronde binneplaas steeds duidelik gesien word. Soos die adeldom na meer residensiële gemak gehunker het, is die meeste manteltorings vergroot of geheel en al verlaat en verruil vir groter klipkastele in ’n ander ligging waar meer substansiële fondamente vereis is as wat die burgheuwel kon bied.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Burgsaal

DIE OOGLOPENDE PUNT VAN ’N STERK DEFENSIEWE TOEVLUGSOORD STEM NIE ALTYD OOREEN MET DIE RELATIEF VREEDSAME TYD WAARIN SOMMIGE KASTELE SE BURGTORING GEBOU IS NIE.

Laer burgtorings, d.w.s. dié met slegs een of twee verdiepings, word soms ’n “burgsaal” genoem. ’n Burgsaal volg baie van die argitektoniese beginsels van ’n burgtoring met massiewe mure en klein vensters, hulle rus op ’n afgeskuinste keermuur, en toegang word beperk deur ’n grag of ophaalbrug en soms ’n voorburg (sien hier onder). Die grondplan van een van die grootste burgsale is by Colchester Kasteel (ca. 1074 HJ), Essex in Engeland waar die kante van die burgsaal 46x33,5 m (151x110 vt.) groot is. Nog goeie voorbeelde van ’n burgsaal kan gesien word by Norwich Kasteel (1095-1115 HJ) en Rising Kasteel (ca. 1138 HJ), albei in Norfolk, Engeland. Soos net uit hierdie twee voorbeelde gesien kan word, het burgsale geensins in selfs groter burgtorings ontwikkel nie, maar die twee was moontlik eerder kontemporêr. Sommige kasteeleienaars het so ’n ontwerp verkies omdat dit goedkoper was of omdat verdediging nie hulle primêre doelwit was nie.

Hall Keep, Colchester Castle
Hall Keep, Colchester Castle
by Sannse (CC BY-SA)

Burgtoring

Voor die laat 16de eeu HJ het die vrystaande burgtoring of groot toring eintlik as die donjon bekend gestaan. Die naam is afgelei van die Franse woord wat ’n heer se gebied beteken. Dit het eers baie later in dungeon verander en die betekenis van ’n kerker of tronk gekry. Historici stem nie heeltemal saam oor die doel van burgtorings nie. Die ooglopende punt van ’n sterk defensiewe toevlugsoord stem nie altyd ooreen met die relatief vreedsame tyd waarin sommige kastele se burgtoring gebou is nie. Indien die torings bloot ’n spoggerige gebaar was om die plaaslike bevolking met die rykdom en mag van die eienaar te beïndruk, was dit ’n uiters duur metode. Boonop het kastele wat nie as primêre woning van ’n baron of monarg gebruik is nie, beperkte praktiese nut gehad en sou dit in elk geval selde deur plaaslike mense besoek word. Maar die torings sou steeds van ver af sigbaar gewees het en sou beslis sowel plaaslike inwoners as moontlike aanvallers beïndruk het, en moontlik was hul hoë koste presies die rede waarom opdrag vir die bou daarvan gegee is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die eerste groot torings in kastele was gewoonlik ’n uitbouing van ’n bestaande gebou. Dit was veral opvallend in Frankryk in die 10de eeu HJ, en ’n voorbeeld daarvan is die burgtoring van Doué-la-Fontaine wat ca. 950 HJ bo-op ’n saalgebou op die grondverdieping opgerig is. Soms is ’n bestaande gefortifiseerde poort as basis gebruik om ’n groter toring daarop te bou, soos by Richmond Kasteel (middel 12de eeu HJ), Yorkshire in Engeland. Werklike vrystaande burgtorings het vanaf die laat 11de eeu HJ by die meeste kastele begin verskyn. Een van die eerste in Engeland was so indrukwekkend dat die naam van die hele kasteel daaraan ontleen is: die Toring van Londen, ca. 1078-1100 HJ deur Willem die Veroweraar gebou.

Burgtorings kon vierkantig of reghoekig wees en het dikwels hul eie torinkies of oorhangtorings bo op gehad; as alternatief was sommiges meerhoekig, het een geboë muur gehad of was heeltemal rond wat verdedigers ’n onbelemmerde 360°-uitsig gegee het. Daar was uitsonderings. Die toring by Trim Kasteel (ca. 1200 HJ) in Meath Graafskap, Ierland, is amper in die vorm van ’n kruis, en Conisbrough Kasteel in Yorkshire, Engeland (1180-1190 HJ) het ses semimeerhoekige soliede kleiner torings rondom die sirkulêre interieur. Laasgenoemde het sir Walter Scott, die skrywer van die 19de eeu HJ so beïndruk dat hy dit as die agtergrond vir sy roman Ivanhoe gebruik het.

Een van die imponerendste oorlewende reghoekige burgtorings is dié van Dover Kasteel (11-12de eeu HJ) in Kent, Engeland. Dit is ongeveer 25,3 m (83 vt.) hoog terwyl elke sy ongeveer 29,5 m (97 vt.) lank is. Die massiewe mure, elkeen ondersteun deur ’n sentrale pilasterstutmuur, is tot en met 6,4 m (21 vt.) dik. In kontras daarmee is een van die vroegste en grootste burgtorings bestaande uit ’n ronde toring deur sir William Marshal by Pembroke Kasteel (1199-1219 HJ) in Wallis gebou. Dit is 16 m (52 vt.) in deursnee, staan 24 m (80 vt.) hoog en het eens ’n koepelvormige dak gehad.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Pembroke Castle Keep
Pembroke Castle Keep
by Mario Sánchez Prada (CC BY-SA)

Die klip wat vir die toring gebruik is, is gewoonlik plaaslik verkry maar die mees gewenste klip was kalksteen van Caen in Normandië. Met ’n hoogte van tot 40 m in sommige gevalle (alhoewel ongeveer 20 m algemener was), het die geweldige gewig van ’n burgtoring ’n behoorlike fondament vereis. Ideaal gesien is ’n soliede klipfondament gebruik aangesien dit enige ondermyning deur ’n aanvallende mag sou voorkom. ’n Alternatief was om slote te grawe wat dan met ru-klip gevul is en waarin eikeheipale ingedryf is. Die dik mure het normaalweg uit ’n kern van ru-klip en mortel bestaan en is met vormklipblokke beklee. Die basis van die mure het meestal ’n terughellende keermuur gehad wat na buite afgeskuins was. Dit het ondermyning en aftakeling van die klipwerk deur vyandelike sappeurs voorkom, soos wat in 1215 HJ gebeur het tydens die beleg van Rochester Kasteel deur koning Jan toe die kasteel onder beheer van die Engelse rebelbaronne was. Sommige torings het houtskutwerk aan die bokant gehad om as bedekte skietplatforms diens te doen, soos by Rochester Kasteel (1127-1136 HJ), Engeland.

DIE VOORBURG VAN ’N BURGTORING IS SOMS DAARVAN GESKEI DEUR MIDDEL VAN ’N OPHAALBRUG, VALPOORT EN SLOOT.

Soos met enige gebou was die ingang die kasteel se swakpunt, en daarom is toegang hiertoe dikwels verkry deur middel van ’n trap wat direk na die eerste verdieping (d.w.s. bo die grondverdieping) lei. By vroeë kastele kon die trap verwyder word indien nodig. Later het dit permanent geraak maar is wel beskerm deur ’n eie deurgang met torings wat teen die kant van die burgtoring bygevoeg is (’n voorburg). Die voorburg is soms van die burgtoring geskei deur middel van ’n ophaalbrug, valpoort en sloot. ’n Baie groot versperde deur was die laaste maar steeds formidabele struikelblok vir aanvallers wat daarin kon slaag om so ver te kom. Al het soldate die binnekant van die burgtoring bereik, moes hulle hul pad teen die nou spiraaltrappe op veg na elke daaropvolgende verdieping; soms moes hulle ’n hele verdieping oorsteek om die trap na die volgende vlak te bereik.

Dakke was gewoonlik van hout gemaak en het skerp hoeke gehad. Die buitenste oppervlak van die dak is deur dakspane, teëls, leistene, dekriet of loodbekleding beskerm. Hout- of looduitgevoerde dreineringskanale, -pype en -uitsteekklipspuite het verseker dat reënwater nie versamel of die klipwerk van die gebou beskadig nie.

Dover Castle Keep
Dover Castle Keep
by Nilfanion (CC BY-SA)

Die kelder van die burgtoring is deurgaans gebruik om lewensmiddele, wapentuig en toerusting te berg. Daar was meestal ’n diep put om drinkwater te voorsien, en dit kon aangevul word deur water wat opgevang en direk na ’n sisterne herlei is. Op die grondverdieping was die kombuise en soms ook stalle. Die eerste verdieping het gewoonlik ’n heersersaal vir bankette en oudiënsies bevat. Die heersersaal was ’n vertrek wat ontwerp is om te beïndruk en dikwels het dit met ’n pragtige houtbalkplafon of indrukwekkende klipgewelwe, groot vensters (wat na die veilige binnekant van die kasteel oopmaak) en ’n deftige kaggel gespog. Op hierdie verdieping, en moontlik op die een daarbo, was ook privaat kamers en dikwels ’n kapel. Die doel van die boonste verdieping – soms die “bovertrek” of “sonkamer” genoem aangesien dit veilig genoeg was om groter vensters te hê – is onbekend. Verhitting is deur middel van kaggels of draagbare vuurpanne verskaf terwyl vensters – aangesien glas skaars was – met houtluike toegerus is om die hitte binne te hou wanneer dit vereis is. Toilette (garderobe) was gewoonlik in muurgangetjies binne die dik mure van ’n toring geleë, dikwels in die hoeke.

Afname

Alhoewel die bou van burgtorings tot in die laaste dekades van die 12de eeu HJ voortgeduur het, was dit nou ongewoon, buiten in plekke waar daar groot onrus was soos Ierland en die Walliese grens. Met dié dat kasteeleienaars nou lywige ronde torings verkies het wat as deel van die ringmuur gebou is, het ’n burgtoring oortollig geraak aangesien die vyand na verwagting nooit deur die buitemuur moes breek nie. ’n Vroeë voorbeeld van so ’n kasteel sonder ’n toring is Framingham in Suffolk, Engeland wat ca. 1180 gebou is. Maar soos sekere ander argitektoniese kenmerke van vroeë kastele, het sommige eienaars gehou van die imponerende uitwerking van ’n groot burgtoring, selfs toe laat middeleeuse oorlogvoering wegbeweeg het van die beleërings wat kenmerkend van vroeër konflikte was.

Nog ’n faktor in die afname van burgtorings was die verskyning van groter en akkurater kanonne vanaf die 14de eeu HJ. Baie kastele is vir hul eie batterye kanonne aangepas, byvoorbeeld om pylgleufvensters breër te maak sodat die lope daardeur kon steek. Van groter belang vir die burgtoring is die feit dat ’n kanon nie doeltreffend teen ’n afwaartse hoek gevuur kon word nie; derhalwe is baie kasteelmure en -torings laer gemaak. Laastens het kasteeleienaars nou meer gerief eerder as defensiewe sterkte verlang, en daarom het die hoë torings met beperkte vloerruimte plek gemaak vir laer, goedkoper geboue wat vir ruimer privaat akkommodasie voorsiening gemaak het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
A qualified translator (English↔Afrikaans), I am currently writing a novel in Afrikaans with a medieval setting. I regard the Middle Ages as the watershed epoch after which mankind started losing touch with nature, hence castles gave way to skyscrapers.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is a history writer based in Italy. His special interests include pottery, architecture, world mythology and discovering the ideas that all civilizations share in common. He holds an MA in Political Philosophy and is the Publishing Director at AHE.